Net so voor Kerfees hoor ons dat die woord Advent baie maal gebruik word. Wat beteken dit? Advent is die begin van die viering van die kerklike jaar. Dit begin hierdie jaar op 27 Januarie, 4 Sondae voor Kersdag. In hierdie tyd dink ons nie net aan Jesus se eerste koms nie, maar ook sy wederkoms. Advent is 'n tyd van HOOP.
Dit herinner ons dat ons tussen die tye leef, tussen die tyd van Jesus se eerste koms en die tyd van sy wederkoms. In hierdie tyd beleef ons die spanning tussen hierdie twee tye: die spanning tussen dit wat reeds gebeur het en dit wat nog moet gebeur.
Met die eerste koms van Jesus het die koninkryk aarde toe gekom. "Die koninkryk van God het naby gekom ." (Mk 1:15). Advent sê vir ons dat God met sy heelmakende krag in hierdie wêreld ingebreek het en besig is om alles nuut en heel te maak. God het in die vorm van 'n mens na die wêreld gekom. Tog het die volle heerlikheid nie aangebreek nie. Eers wanneer Jesus weer kom, kom die koninkryk in sy volle glorie en word alles finaal nuut en heel gemaak.
Intussen leef ons met die spanning van die koninkryk van God wat reeds gekom het, maar nog nie in sy volle heerlikheid nie. Daarom roep advent ons om in hierdie "tussentyd" aktief die belange van die koninkryk te bevorder.
Advent loop uit op Kersfees en Epifanie. In hierdie tyd loop ons die pad van hoop na vreugde. Kersfeestyd duur vanaf 25 Desember tot en met 5 Januarie, 'n tydperk van twaalf dae, die sg. "Twaalf dae van Kersfees". Die vernaamste simbool in Advent sowel as Kersfees is lig - die Lig wat gekom het na die wêreld en wat nie deur die duisternis uitgedoof kon word nie. Daar word gewoonlik van kerse gebruik gemaak om hierdie simbool te dra. Die kleur wat gebruik word om hierdie tyd simbolies voor die stel is pers – die koningskleur. Die Koning van die Heelal is oppad!
In Adventstyd is dit gebruiklik dat vier kerse in 'n adventskrans geplaas word. Met elkeen van die vier adventsondae word 'n kers aangesteek, todat al vier kerse brand. Op Kersdag is daar net een kers, die Christus-kers.
Aanvanklik is Jesus se geboorte en sy vroeë lewe met Epifanie ("Godsverskyning") gevier. Epifanie is dus, histories gesproke, die oudste fees. Die viering van Kersfees is 'n latere ontwikkeling. Vandag herdenk ons met Epifanie die begin van Jesus se openbare bediening. Die tydperk tussen Epifanie en Aswoensdag word gewy aan alles wat Jesus op aarde gedoen het tot en met die verheerliking op die berg. Daarom is die eerste Sondag ná 6 Januarie die geleentheid om Jesus se doop te herdenk, terwyl die laaste Sondag voor Aswoensdag, Jesus se verheerliking op die berg herdenk.
Welkom by
Philadelphia Gemeente
© 2012 Created by Philadelphia Gemeente.

Jy moet 'n lid wees van Philadelphia Gemeente om kommentaar te lewer!
Join Philadelphia Gemeente