Philadelphia Gemeente

In die voetspore van Paulus – Philadelphia toer Egipte en Turkye April 2011

In die voetspore van Paulus – Philadelphia toer Egipte en Turkye

April 2011

 

Min mense dink aan Turkye as ‘n bestemming wat te make het met ons geestelike wortels. Tog het die meeste van die Nuwe Testament afgespeel in Klein-Asië, vandag se Turkye. Dit is hier waar ‘n groot deel van ons geloof gevorm is. Dink maar bietjie aan Paulus se sendingreise, die eerste gemeentes of gaan lees maar weer die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring, dan besef ‘n mens watter invloed hierdie wêreld op die Christendom en ook op ons gehad het.

 

In April 2011 het ‘n groep lidmate van Philadelphia en ‘n paar vriende ‘n besondere belewenis saam gehad. Die toer het afgeskop met ‘n besoek aan Egipte met sy skatte: piramides, Egiptiese museum,  die Nyl en Koptiese geskiedenis.

 

In Turkye het ons Paulus se voetspore gevolg o.a.: Ikonium (Hand 14:1), Efese (Hand 19) en die omliggende gebiede wat Paulus vanuit Efese bedien het (Hand 19:10). Dit is by name Hiërapolis, Laodisea, Philadelphia, Sardis, Smirna en Pergamum, wat saam met Efese ook die sewe gemeentes was aan wie die sewe briewe van Openbaring 2 en 3 geskryf is. Wat ‘n belewenis was dit nie om saam in die strate van hierdie ou stede te stap en die indrukwekkende oorblyfsels daarvan te sien nie.  Op die koop toe het ons twee van die antieke sewe wonders van die wêreld gesien het, naamlik die piramides (in Egipte) en die tempel van Artemis. Kappadosië moet sekerlik tel as een van die beste plekke in die wêreld om met ‘n lugballon te verken. Hierdie provinsie is bekend vir sy feë-skoorstene en ondergrondse stede wat deur Christene bewoon is in tye van vervolging.

 

Met al hierdie besonderse bestemmings was ons almal dit eens dat ons geestelike belewenisse ons vir altyd gaan bybly en ons die meeste geraak het.

 

Hou hierdie spasie dop. Volgende jaar toer ons na Israel en Jordanië!

 

Groete,

Ds Martin

Views: 25

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Philadelphia Gemeente om kommentaar te lewer!

Join Philadelphia Gemeente