Om op koers te bly en ons visie te realiseer, word die volgende doelwitte vir 2009 in die vooruitsig gestel:

Dissipelskap

Dissipelskap gaan oor wat dit behels om ‘n volgeling van Jesus te wees. Die tema van die jaar is: “Volg My!” Dissipelskap beteken nie alleen dat ons soos Christus sal wees, doen en optree nie, maar dat ons ook sy verteenwoordigers op aarde sal wees. Nege temas sal gedurende 9 maande hanteer word. Hierdie temas is die volgende:

‘n Dissipel ... is soos Jesus: Februarie
‘n Dissipel ... bly altyd ‘n leerling: Maart
‘n Dissipel ... stel prioriteite: April
‘n Dissipel ... het ‘n plek: Mei (Pinkstermaand)
‘n Dissipel ... bid: Junie
‘n Dissipel ... doen: Augustus
Dissipels ... is betrokke bymekaar: September
‘n Dissipel ... wandel in die Woord: Oktober
‘n Dissipel ... maak dissipels: November
Elkeen van hierdie temas word op die volgende wyse hanteer:

Ten minste een maal ‘n maand fokus ‘n preek oor die bepaalde tema en daar gaan gepoog word om in alle preke die tema aan te sny. Die 3 predikante hanteer ‘n tema om die beurt by beide die oggend- en aanddienste. Die preke word aan al die Fokusgroepe gestuur.
Fokusgroepe kom maandeliks byeen om elke tema te hanteer aan die hand van ‘n Bybelstudiegids wat deur die predikante saamgestel sal word.
Elke tema word vergesel van ‘n logo wat op die skerm gewys sal word en ook op die afkondigingsblaadjie en e-pos brief vertoon sal word. By elke erediens sal die maandelikse tema hanteer word en verduidelik word.
Aktuele gemeente-aande rondom elke tema kan ook hanteer word, byvoorbeeld filmbesprekings wat elke tema ondersteun.
‘n SMS sal weekliks aan alle lidmate gestuur word wat elke tema ondersteun, byvoorbeeld ‘n Bybelvers of ‘n kort gedagte.
Die doel van hierdie tema is dat lidmate toegerus sal word ten opsigte van die verstaan en praktiese uitwerking van hulle lidmaatskap. Die Volg My!-tema dra by tot ons beweging na mekaar, na buite en na God, maar ondersteun ook ons visie van bou – ons bou aan ons verhouding met God, met mekaar, onsself en die wêreld waarheen God ons stuur. In Matteus 28:19 hoor ons die opdrag om dissipels te wees, te bou en te beweeg; ”Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.

Projekte

Die volgende projekte word beplan vir 2009:

Gemeentekamp
Gemeentefees in Maartmaand – Loofhuttefees om weer op nuut na te dink oor ons doel as gemeente en dankie te sê vir die bouwerk wat begin is
Dameskamp en moontlike mannekamp
Huweliksverrykingkursus
Verhoudingsverrykingsnaweek
Minstens 2 staptoere vir studente
Eerstejaarskamp
Fietstoer
Damesoggend
Moontlike toer na die Wildtuin
Sleepkamp
Kamp vir enkellopendes
Finalejaarkamp
Kategesekamp
Dinee
Ondersteuningsraadkamp
Gemeente-etes
Leierskamp vir toerusting van Kerkraad
Groepe

Die wyse waarop ons die tema van dissipelskap wil laat realiseer, is deur die organisering in groepe. Groepslede hanteer die temas met mekaar en neem ook onderlinge verantwoordelikheid vir mekaar. Op hierdie wyse word die koinonia of gemeenskap van gelowiges in die gemeente bewerkstellig. Die ideaal is dat elke lidmaat van Philadelphia by ‘n groep sal inskakel. Groepe neem ook verantwoordelikheid vir persone wat nie deel vorm van die groep nie. Die persoon verantwoordelik vir “uitreik” is saam met die groepleier verantwoordelik daarvoor om hierdie persone te versorg en te motiveer om deel te wees. Op hierdie wyse word elke lidmaat van Philadelphia geestelik versorg.

Views: 22

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Philadelphia Gemeente om kommentaar te lewer!

Join Philadelphia Gemeente