Tradisie is die lewende geloof van die dooies; tradisionalisme is die dooie geloof van die lewendes.

Jaroslav Pelikan

As die plek van die kerk in die 21ste eeu die diepsee is, as ons fokus die toekoms is en ons boot altyd vorentoe moet gaan, wat is dan die funksie van ons anker? Hoe kan ons as kerk en gemeente vorentoe beweeg die toekoms binne, as ons dan nog steeds geanker is? In Hebreërs 6:18-19 staan die volgende: “Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het,  ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker wat agter die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.”  

 

Ons word aangespoor om vorentoe te beweeg in veiligheid en in vertroue deur ons anker vorentoe te gooi en die “hoop aan te gryp.” Dis ’n vreemde beeld: Om die anker vorentoe te gooi en vorentoe te beweeg deur aan die verlede vas te hou. Ons anker hou ons dus nie terug nie, maar trek ons vorentoe. In storms en moeilike omstandighede, gebeur dit dat ’n skip wat in die hawe vasgemeer is, in gevaar is. ’n Bemanning van agt seemanne word dan die diepsee ingestuur om die skip se anker in die diepsee te gooi waar dit veiliger is. Hulle vaar dan die diepsee binne sover as wat die ketting van die anker toelaat en dan word die anker in die diepsee geplaas. Die boot word dan vorentoe getrek deur die anker.

 

Dit beteken dat ons binne die kerk nog steeds vashou aan tradisie, maar met die oog op die toekoms en die uitbereiding van die kerk. Tradisie behoort ons nie in die verlede te hou nie, maar ons in staat te stel om die toekoms met hoop binne te gaan. Ons tradisie behoort ons in staat te stel om die toekoms in te beweeg en ons tradisie behoort verwoord te word vir die toekoms. Die Here vra van ons om “in hierdie wêreld te wees, maar nie van die wêreld nie.” Hy vra van ons om die wêreld waarbinne ons bly se nood raak te sien en waar ons bly, binne die konteks waar onsself bevind, Christus te leef. Christus bly relevant vir gister, vandag en more. Dis net die hoe en die waar van Christus-leef wat verander.

Views: 16

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Philadelphia Gemeente om kommentaar te lewer!

Join Philadelphia Gemeente