Wat Doen Ons

Dit is merkwaardig dat Paulus juis die beeld van ‘n liggaam gebruik in 1 Kor 12 om die kerk uit te beeld. Vir Paulus is die kerk niks minder as die liggaam van Christus nie - Lidmate wat eintlik Ledemate is. Hierdie liggaam het baie ledemate, elkeen met sy eie funksie en plek. Elke oog in hierdie liggaam moet goed kan sien en elke hand moet goed en raak kan vat. Die voete moet almal goed kan beweeg en die bene moet flink kan kom waar dit nodig is.

 

Anders gesê: elke lidmaat van elke gemeente het een of ander spesiale plekkie en ‘n bepaalde funksie wat hy of sy moet volstaan. Party lidmate, byvoorbeeld, moet die evangelie verkondig, ander moet die siekes versorg, ander moet lief wees vir die klein mensies van die gemeente, ander weer moet goed kan luister en ander weer moet gereed wees om met hulle lewenswysheid gesonde raad aan ons almal te gee.

 

Wat meer is: al hierdie ledemate het mekaar nodig. En nie net mekaar nie, die gemeente het hulle ook nodig. Iemand moet organiseer, iemand moet leiding gee, iemand moet skeppend planne kan uitdink, en ander kan dit weer maklik uitvoer. Die een, sê Paulus, kan nie sonder die ander een klaarkom nie, en die een is ook nie belangriker as die ander nie. NIEMAND is onbelangrik of onnodig nie!

 

Maar nou, sê Paulus, het ‘n ernstige probleem in Korinte se gemeente ontstaan. Sommige lidmate het gedink dat hulle tog so ‘n bietjie belangriker as van die ander is. En kort voor lank was die liggaam van Christus in Korinte ernstig misvormd en siek.

 

Miskien sou ons kon sê dat die siekte van hoogmoed soos in Korinte darem nou nie so sterk onder ons na vore kom nie. Maar ek vermoed daar het ‘n groter pandemie in die kerk uitgebreek: ‘n verbruikersmentaliteit wat lei tot onbetrokkenheid.

 

Daar is baie mense wat vandag kerk toe gaan. Maar die probleem is dat hulle van kerk na kerk na kerk gaan – die sogenaamde Church-hoppers. Soos wat daar een of ander nuwe aktiwiteit of groot gebeurtenis is, so jaag ek dan agter al hierdie gebeurtenisse of belewenisse aan.

 

En die probleem? Dat ek nooit op 'n punt kom waar ek BEHOORT aan 'n gemeenskap nie. Waar ek my rol as ledemaat tot opbou van die ander vervul nie. Ek kom nooit by ‘n punt waar ek 'n VERBINTENIS maak nie. (HAND 2:42).

 

As mens mooi hieraan dink is al die ledemate van ‘n liggaam eintlik net ingestel op die opbou van die groter geheel. Die enigste dinge in ‘n liggaam wat nie hierdie doel deel nie, is ‘n kwaadaardige gewas of ‘n parasiet.

 

Wat maak mens met ‘n liggaam wat siek is? Jy gee hom medisyne in. En dit is presies wat Paulus hier doen. Hy wys die gemeente daarop dat hulle nie maar net kan aanhou met die verminking van Christus se liggaam nie. Hulle sal weer gesond en heel word wanneer hulle begin besef dat elkeen van hulle se uniekheid en bydrae noodsaaklik is vir die gesonde funksionering van die gemeente.

 

Christene, sê Paulus, het mekaar broodnodig. Hulle kan nie sonder mekaar klaarkom nie. En die eerste opdrag wat hulle gehoor aan moet gee om die liggaam gesond te maak en te hou is om regtig vir mekaar om te gee.

 

Wat beteken hierdie omgee vir mekaar, prakties, volgens Paulus? Dat mense mekaar met liefde en begrip sal dien. Dat ons ons gawes aan mekaar sal gee. Miskien vra u: maar hoe nou? Wel dit is eintlik heel eenvoudig: Net 3 vrae wat ek vir myself moet beantwoord.

 

  1. Wat doen ek reeds goed? Watter GAWES en talente het ek wat my anders, besonders of uniek maak? Sonder uitsondering het elkeen van ons ‘n gawe.
  2. Watter ERVARINGS het ek al in my lewe gehad. Dit is net so dat die Here juis mense gebruik wat deur sekere omstandighede gegaan het om ander wat ook nou daardeur gaan, te help.
  3. Wat is jou PASSIE in die lewe? Wat maak jou opgewonde? Hoe kan ek iets daarvan terugbring in die liggaam van Christus? Hoe kan my passie ander aansteek of dien?

 

Ons almal het die opdrag om aan die Liggaam van Christus te behoort. Sonder my is hierdie liggaam eintlik gebreklik. Niemand is 'n eiland nie, ons is ‘n liggaam. Ons is ledemate met verantwoordelikhede. Met unieke gawes wat ek aan ander verskuldig is. Alleen kan ek baie maklik lou word in my geloof.

 

Kom laat ons uitkyk vir mekaar. Mekaar optel en aanmoedig!

 

Mag ons waarlik die vreugdes van ‘n heel liggaam ook in ons gemeente ervaar. Philadelphia – ‘n liggaam waar ons bou en beweeg alleen tot eer van die Here.

 

Daar is ‘n baie sterk klem op die gemeente se gerigtheid na buite toe, die volgende uitreikaksies fokus op hierdie wesenlike saak van ons geloofslewe:

 

Kinders-In-Nood

 

‘n Weeklikse bediening op Donderdae by Jakaranda Kinderhuis waar Bybelstudie gehou word, kinders met huiswerk en lewensvaardighede gehelp word.

 

Brood-Aksie

 

Elke eerste Donderdag van elke maand word 200 brode by hulpbehoewendes in die Middestad uitgedeel. Hierdie aksie is ook al in die sesde jaar vervolgens is goeie verhoudinge reeds gebou. Hierdie bediening poog ook om meer as net brood uit te deel – dit het ‘n holistiese benadering waar mense met die evangelie, gebed en fisiese hulpmiddele bedien word. ‘n Kersprogram word ook jaarliks aangebied.

 

HOPE

 

Die gemeente is betrokke by die bedryf van ‘n traumasentrum. Daar word saam met twee ander Kerke gewerk om ook op geestelike en maatskaplike vlak ‘n verskil te maak in Hatfield aan mense wat gewoonlik nie in ‘n Kerk is nie. Die DRIVEN-aksie is deel van HOPE. DRIVEN fokus op Alkohol misbruik, en dames studente wat in uitgelewerde situasies is.

 

Ondersteuningsraadkamp

 

‘n Weeklange kamp in September saam met 100 getraumatiseerde kinders in pleegsorg. Die fokus hiervan is lewensvaardighede, geestelike groei en ‘n gesonde steunstelsel. Bediening geskied saam met die Ondersteuningsraad Welsynsorganisasie.

 

Die gemeente is ook deurlopend met uitreikaksies betrokke waar evangelisasiewerk gedoen word.

 

Verdere aksies buite die gemeente en nie-lidmate behels ondersteuning aan: Ouetehuise soos Van Rensburg Tehuis, Ons Tuis, Magtild Postumus Tehuis en die DPS-Huis Ninapark.

 

Die gemeente is sterk gefokus op belangegroepe en al die bedieninge is ook so ingerig. Die volgende kampe en aksies poog om studente in hulle spesifieke menswees en omstandighede aan te spreek:

 

  • Eerstejaarskamp Kamp vir enkellopendes
  • Leierskamp
  • Gemeentekamp
  • Staptoere
  • Fietstoer
  • Sleepkamp
  • Ondersteuningsraadkamp
  • Mans- en Dameskamp
  • JOOL
  • Sosiale klub vir enkellopendes

 

Tydens die volgende kampe word daar op spesifieke groepe in die gemeente gefokus:

 

  • Kategesekamp
  • Finalejaarkategesekamp
  • Kamp vir jongwerkendes
  • Gemeentekamp

 

Verskeie Bybelstudies en ‘n Bybelskool vind op ‘n weeklikse basis plaas.