Inleiding
In die verlede is lidmate geografies ingedeel volgens wyke, maar
met die ontwikkeling van Geloofsfokusgroepe het die situasie
ontstaan dat mense oor wyks- en gemeentegrense by mekaar betrokke
raak.
Ons beskou Geloofsfokusgroepe as die ideale groeigeleentheid vir
lidmate om hulle geloof te verdiep. Geloofsfokusgroepe kom in
sekere gevalle tot weekliks bymekaar ter wille van geestelike
groei, onderlinge ondersteuning en om in liefde na ander mense uit
te reik. Ons moedig lidmate sterk aan om aan ’n Geloofsfokusgroep
te behoort.
Baie lidmate behoort nie aan ’n Geloofsfokusgroep nie, maar wel aan
’n kleingroep bv. ‘n groep met ‘n spesifieke belangstelling. Daar
kan verskillende kleingroepe ontstaan na die behoefte in die
gemeente.
Lidmate wat nie aan ’n Geloofsfokusgroep of kleingroep behoort nie,
word in wyke ingedeel en steeds as volwaardige lidmate van die
gemeente beskou. Hulle sal steeds toegang hê tot die pastorale
versorging van ’n predikant wat met die invul van ’n
huisbesoekkaartjie graag hulle wil besoek.
Hoekom deel word van ‘n Geloofsfokusgroep?
Die Geloofsfokusgroepstelsel is geskoei op Jesus se eie bediening:
Hy het sy dissipels een vir een geroep (Mark 1:16-20 en 3:13-14) en
saam met hulle 'n groep gevorm om vir mekaar om te gee en hulle
navolging van die Here uit te leef. Hy het die dissipels ook
opgelei om die evangelie met ander te deel (Hand 1:3-4 en 8). Baie
mense het op die dissipels se getuienis gereageer en onder leiding
van die Heilige Gees in mekaar se huise saamgekom. So is die eerste
gemeente gestig en die koinonia-beginsel van intieme geestelike
samesyn in gemeentes gevestig. Dié gebruik is gedurende die
Hervorming van die Christelike Kerk voortgesit.
Om dissipel van Jesus Christus te wees, beteken om geestelike
beginsels te ontdek, dit in jou daaglikse lewe toe te pas en met
ander te deel. Die Geloofsfokusgroep skep die ruimte vir die
praktiese beoefening van jou Christenskap. Maar ook in ander
opsigte hou inskakeling by 'n Geloofsfokusgroep wonderlike seën in,
nl:
Die voordele van 'n Geloofsfokusgroep
Geen ander aksie in die gemeente lewer soveel vrug van geestelike
groeikrag en persoonlike vervulling nie. Die Geloofsfokusgroep skep
‘n ruimte waarbinne die volgeling van die Here Jesus waarlik kan
groei. Uit die klein kring van medegelowiges word as’t ware ‘n nuwe
familie gebore! Dit bied man en vrou, vriend en vriendin, ouer en
kind die geleentheid om saam betrokke te raak by die Woord van die
Here, geestelik te groei en vervulling te beleef en saam by die
gemeente in te skakel - alles boustowwe vir ‘n sinvolle en vervulde
bestaan. In die intieme byeenkoms van ‘n Geloofsfokusgroep leer
mense om God en hul medemens te vertrou. Baie lidmate beleef dit
selfs as ‘n herlewing in hulle geloofslewe.
Is jy deel van 'n groep?
Welkom by
Philadelphia Gemeente
© 2012 Created by Philadelphia Gemeente.
