Inleiding
Ons tema hierdie jaar sluit aan by ons visie naamlik: Philadelphia,
’n hawe waar ons bou en beweeg. Ons gebruik die beeld van ’n skip
wat beweeg vanuit die hawe, die diepsee in. Ek en jy is deel van
die bemanning van hierdie skip, die see, die onbekende wêreld
waarnatoe God ons stuur om dissipels te wees. Ons kan tog nie as
dissipels net veilig in die hawe bly en nooit ons dissipelskap
vervul nie. Ons moet beweeg – beweeg in God se wêreld. As dissipels
op hierdie oop see, moet ons werk met 'n kaart wat vir ons
bestemmings aandui. Watter aspekte van die geloof en dissipelwees
is vir ons belangrik? By watter bestemming moet elke gelowige
aandoen? Dit is belangrik dat ons geloof sal verdiep, dat ons sal
uitreik na ‘n wêreld wat smag na God se liefde, dat ons sal omgee
deur hierdie liefde te deel, dat ons sal fokus op ons gesinslede,
ons familie om sodoende ook na ons groter geloofsfamilie te kan
uitreik en dat ons binne die erediens God sal beleef sodat God ook
in die erediens van die lewe na buite kan eer en deel. Die beeld
van ’n bewegende skip verlig elkeen van die fokus-areas, naamlik
verdieping, uitreik, omgee, gesinsorg en erediens. Die temas vir
die jaar gaan by hierdie fokus-areas aansluit. Sonder ’n kaart vir
ons geloofslewe - vir ons geloofsfamilie - is ons skip nêrens heen
oppad nie. Hierdie jaar, 2011, wil ons jou uitnooi om saam met ons
te reis die diepsee in, die onbekende in te vaar terwyl ons vashou
aan dit wat ons met ons reis wil bereik: naamlik om ons geloof te
verdiep, uit te reik na buite, om te gee met deernis, aan die
kwaliteit van ons familes en groter geloofsfamilie te bou en om God
te eer met al ons kragte en verstand. Is jy bereid om aan boord te
klim? Die diepsee wag ...!
Wie is ons suiderkruis op die oop see?
What? No star, and you are going out to sea? Marching, and you have no music? Travelling, and you have no book? What? No love, and you are going out to live?
Die eerste reël van navigasie op die oop see, is om enige posisie van jou skip op enige gegewe tyd te kan bepaal. Ons het ’n verwysingspunt nodig wat ons in staat stel om ons posisie op die aarde in verhouding tot die sterre te bepaal. Op die oop see is die verwysingspunt in die suidelike halfrond, die Suiderkruis. Die langste punt van die Suiderkruis word 4 en ’n half keer na die horison verleng om ongeveer die rigting Suid aan te dui. Die vaste punt is nie jou verwysingspunt vanwaar jy die Suiderkruis waarneem nie, maar jou oriëntasie teenoor die Suiderkruis. Die Suiderkruis verander nie, maar jou persoonlike koördinate en oriëntasie daarteenoor is die veranderlike. Jesus van Nasaret is my en jou Suiderkruis. Dit is Jesus, ons helder Môrester (1 Petrus 1:19; Openbaring 22:16) wat ons op koers hou. Christenwees is verhoudingwees. Die kernverhouding wat ons doen en late bepaal, is ons verhouding met Christus. Alles, ons hele lewe, hang af van die administrasie en bestuur van hierdie verhouding. Met ’n wêreld wat vinniger verander as die spoed van lig, is daar geen vaste horisonne nie. Maar met ons oog gevestig op die Jesus-horison, het ons 'n baken wat ons lei op ons pad na elke nuwe bestemming. Verloor Christus uit die oog, en die seevaarder op die see van die lewe verdwaal. Toe Petrus sy oë van Christus afgehaal het, het hy begin sink (Matteus 14:30-31). Wanneer ons uit die genade en liefde van Christus lewe, loop ons op water. Anders sink ons... in wanhoop, in vrees vir die toekoms. Hoe lyk jou verhouding met die helder Môrester, ons Suiderkruis?
Die moed om die diepsee binne te vaar
Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het? Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit. Ek het gesê: “Tot hier mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe. -Job 38:9-11
Mense in die antieke tyd het ’n heilige vrees vir die see gehad. Hulle het vas geglo dat die see die onbekende is, die plek waar monsters woon. Die see was vir hulle die simbool van chaos en verskrikking. ’n Tsoenami van ongekende omvang het op 26 Desember 2004 vernietiging in verskeie lande rondom die Indiese Oseaan veroorsaak. Meer as 300 000 mense het gesterf in een van die grootste natuurrampe van ons tyd. Nuusprogramme het vir maande daarna nog beeldmateriaal vertoon van verwoestende golwe wat dorpe en stede in Sri Lanka, Thailand en Indonesië weggevee het. Die see is ‘n verskrikking, onbekend vir almal van ons wat veiliger met die vaste aarde onder ons voete, voel. Só voel ons ook oor die wêreld waarnatoe die Here ons as sy dissipels stuur. Tog weet ons dat die kerk nie ’n gebou is waarnatoe mense gaan nie, maar volgelinge van Jesus waar hulle hulle ook al bevind. Die kerk is gelowiges wat saam aanbid en saam gestuur is na die wêreld. Ek en jy is geroep om die onbekende see binne te vaar en ons Christenskap te leef in die wêreld waarbinne ons onsself bevind. Dit vra moed, durf, geloof en vertroue om uit te reik na ’n onbekende see, chaos en verskrikking. Dit vra moed om die veilige mure van die kerkgebou te verlaat, die verwelkomende geselskap van mede-gelowiges en ’n wêreld te trotseer wat nie die Evangelie van Liefde ken en leef nie. Tog verseker die Here ons van sy teenwoordigheid en glo ons vas dat die Here ons onseker treë saam met ons stap, voetjie vir voetjie.
Waarheen lei die kompas ons?
As jy getrou is aan jou kompas, deel jy ook die vryheid van die see. - Anoniem
Geen navigator gaan iewers heen sonder ’n kompas nie. Geen seevaarder vaar die diepsee binne sonder ’n kompas nie. ’n Kompas is absoluut essensiëel. Sonder dit kan jy nie verwag om iewers te kom nie. Behalwe by die punt van verdwaal. Ons almal weet hoe ‘n kompas min of meer werk. Die naald van ‘n kompas bestaan uit gemagnetiseerde staal en wys altyd in die rigting van magnetiese noord. God het ook aan sy geestelike navigeerders ’n kompas gegee om hulle rigting te vind. God het vir ons die Skrif gegee. Die Bybel wys ons na Christus. Dit stel ons in staat om ons rigting te vind. Ons aanbid nie die Skrif nie. Ons glo nie in die Skrif nie, maar uit die Skrif leer ons God ken en ons glo in God. Ons leer Christus ken. Ons kompas wys ons ons lewensrigting – om Christus te volg. Die Skrif wat ons kompas is, is enige dissipels van Christus se sleutel-instrument. Legendes oor seevaarders vertel dat menigte ervare seemanne ‘n kompas met ‘n toutjie aan om hulle nekke gedra het – ’n lewenslyn as hulle dalk oorboord sou val en hulself in die oop see bevind. Die Bybel wys ons die rigting in onsekere tye aan. Ons het veral ’n kompas nodig as dit bewolk en reënerig is en as dit só donker is dat ons nie meer die Suiderkruis kan sien nie. ’n Kompas help ons om nie te verdwaal nie. ’n Christen is ’n persoon met ’n magneet in sy of haar hart en ’n kompas in die kop. Die magneet in die hart is Christus, die kompas in ons kop en hart is die Bybel. Lees ons die Bybel op só ’n wyse dat ons verhouding met God versterk word, lees ons die Bybel om ‘n kykie in God se hart te kry? Leer ek deur my Bybellees die Weg en die Waarheid en die Lewe ken? Alleen as ek die Weg en die Waarheid en die Lewe ken, verstaan ek van Omgee en Liefde. Dan eers kan ek Lewe.
Die waarde van bemanning
When the storms of life are raging, stand by me. - Charles Albert Tindley
Ons is almal deel van ’n sink-of-swem-wêreld. Ons wêreld konfronteer ons daagliks met sink-of-swem-situasies. Maar ons kompas, ons Bybel leer ons ook: Ons sink of swem saam. Die aksies van een persoon het ’n effek op ander. Hierdie verbintenis met mekaar is selfs op die subatomiese vlak van ons heelal sigbaar. Ons bly in ’n heelal waar alles en almal met mekaar verbind is. Ons is almal in dieselfde bootjie. Ons weet ook almal dat daar storms in die lewe gaan wees. “Die een nadeel van die see” het iemand eenmaal gesê, lê in die feit dat, nadat jy een golf suksesvol getrotseer het, daar maar net weer ‘n volgende een oppad is. Dalk groter en erger.” Wanneer ’n seevaarder se skip besig is om te sink, word ‘n “Mayday” gestuur. Die woord kom van die Franse woord M’aidez, wat beteken: “Gee my hulp.” Wie sal ons "Mayday"! antwoord? Reddingspogings is altyd spanpogings. Sonder ‘n span en sonder hulp gaan ons boot dit nooit maak nie. Jesus het ook die waarde van spanwerk beklemtoon. Hy het sy aardse werk daaraan spandeer om dissipels bymekaar te maak om die Evangelie van Liefde te verkondig en te leer. Hy het hulle ook in spanne na die die wêreld toe gestuur. Ons is almal deel van die liggaam van Christus, aangewese op mekaar en verantwoordelik vir mekaar. Wat is die kenmerke van ‘n goeie en betroubare bemanning? Betroubare bemanning dink missionaal – hulle weet hulle werkplek en doelwit is om die wêreld te bereik. Hulle deel dieselfde missie. Betroubare bemanning respekteer mekaar se andersheid en het respek vir mekaar se gawes. Betroubare bemanning vertrou mekaar al verskil hulle ook van mekaar. Vertroue is die vermoë om “’n brug te bou, terwyl jy daarop loop.” Sonder spanwerk en saamwerk kan geen skip die oop see aandurf nie.
Die waarde van skeepsverlof
Die Here is my Herder Ek kom niks kort nie Hy laat my rus langs groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag.
Vra enige atleet. Selfs die fiksste liggaam kan net tot sover gedryf word, voordat hy voor die Muur te staan kom. Elke atleet het al voor die Muur te staan gekom. Wanneer jou liggaam sy fisiologiese en biochemiese grense bereik het, jy jouself gedryf het tot dit nie meer verder kan nie, het jy by die Muur uitgekom. Die pas en druk van ons 21- eeuse-leefstyl bring ons ook meermale voor hierdie Muur te staan. Die spoed-van lig-pas waarteen ons lewe, laat ons gedreineer, moeg en moedeloos. Ons is nie masjiene wat ons fisiese struktuur kan verander om by die uitmergelende pas van die lewe aan te pas nie. Al wat ons kan doen, is om ons lewensstyl te verander. Daarom is dit nodig om plek te maak vir skeepsverlof in ons besige skedule. Juis om hierdie rede eer ons ook die Sabbat, ons rusdag. Wanneer ons nie die Sabbat heilig nie, is ons ook besig om ons geestelike lewe af te skeep. Dit gaan nie daaroor dat ons die Sabbat onderhou nie, maar eerder dat die Sabbat ons onderhou – dit hou ons geestelik lewendig en aan die gang. Om Sondag as rusdag te heilig gaan nie oor ‘n klomp “jy-mag-nie’s, maar eerder oor ’n feesviering, ’n feesviering van die lewe en liefde. Jesus is meermale daarvan beskuldig dat Hy die Sabbat ontheilig, tog was hy die Meester van Sabbatonderhouding. Hy het die waarde van rus besef en menigmaal, tussen sy besige skedule, ’n kort sabbatsrus geneem om tyd te maak vir kommunikasie met God. Hy het die waarde van afsondering besef en dit in sy lewe toegepas. In plaas daarvan om ons tradisionele kure vir moegheid te gebruik – slaappille, kruietee, sagte musiek – waarom erken ons nie aan onsself wanneer dit tyd is vir skeepsverlof nie? Waarom neem ons nie die geleentheid om te rus nie?
Gooi die anker uit
Tradisie is die lewende geloof van die dooies; tradisionalisme is die dooie geloof van die lewendes. Jaroslav Pelikan
As die plek van die kerk in die 21ste eeu die diepsee is, as ons fokus die toekoms is en ons boot altyd vorentoe moet gaan, wat is dan die funksie van ons anker? Hoe kan ons as kerk en gemeente vorentoe beweeg die toekoms binne, as ons dan nog steeds geanker is? In Hebreërs 6:18-19 staan die volgende: “Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker wat agter die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.” Ons word aangespoor om vorentoe te beweeg in veiligheid en in vertroue deur ons anker vorentoe te gooi en die “hoop aan te gryp.” Dis ’n vreemde beeld: Om die anker vorentoe te gooi en vorentoe te beweeg deur aan die verlede vas te hou. Ons anker hou ons dus nie terug nie, maar trek ons vorentoe. In storms en moeilike omstandighede, gebeur dit dat ’n skip wat in die hawe vasgemeer is, in gevaar is. ’n Bemanning van agt seemanne word dan die diepsee ingestuur om die skip se anker in die diepsee te gooi waar dit veiliger is. Hulle vaar dan die diepsee binne sover as wat die ketting van die anker toelaat en dan word die anker in die diepsee geplaas. Die boot word dan vorentoe getrek deur die anker. Dit beteken dat ons binne die kerk nog steeds vashou aan tradisie, maar met die oog op die toekoms en die uitbereiding van die kerk. Tradisie behoort ons nie in die verlede te hou nie, maar ons in staat te stel om die toekoms met hoop binne te gaan. Ons tradisie behoort ons in staat te stel om die toekoms in te beweeg en ons tradisie behoort verwoord te word vir die toekoms. Die Here vra van ons om “in hierdie wêreld te wees, maar nie van die wêreld nie.” Hy vra van ons om die wêreld waarbinne ons bly se nood raak te sien en waar ons bly, binne die konteks waar onsself bevind, Christus te leef. Christus bly relevant vir gister, vandag en môre. Dis net die hoe en die waar van Christus-leef wat verander.
Kyk deur die teleskoop
Waar daar nie Visie is nie, is daar nie Lewe nie. - Hebreeuse spreekwoord
Ons het visie nodig om te gaan waarheen die Here ons roep. Somtyds moet ons net ons oë oopmaak en kyk. Ander kere het ons bietjie hulp nodig. ’n Teleskoop is ’n instrument wat seevaarders help om te “sien” en om “visie” te gee waar dit andersins onmoontlik is om te sien. In die verlede het die kaptein van ‘n skip op die brug van sy skip gestaan en deur sy teleskoop gekyk. Met die hulp van die klein instrument in sy hand het hy ’n ogie gehou oor die wind en die see om vas te stel wat vir sy en sy bemanning op die pad vorentoe lê. Sonder visie, sonder dat ons weet waarnatoe ons oppad is, kan niks gebeur nie en kan ons ook nie oppad wees nie. ’n Visie is ook vir bemanning, spanlede en gemeentelede ‘n saambindende faktor. Ons vermoë om te sien en ons sien te visualiseer, bind saam, help ons om iewers uit te kom en om die krag en energie wat in elkeen van ons opgesluit lê, los te maak. Mense met visie is nie diegene met die besondere vermoë om in die toekoms in te kyk nie. Dit is diegene wat rondom hulle kan kyk, waarneem en die lewe sien vir wat dit is. Dit is diegene wat God se teenwoordigheid rondom hulle kan raaksien. Dit is hulle wat die “tekens van die tyd” reg kan lees en opsom, nie diegene wat noodwendig die “tekens van die toekoms” kan lees nie. Mense met visie help ander om ook te sien en veral om God raak te sien. Baie van ons sien, maar kan nog steeds nie sien nie. Ons loop soos blindes rond. Ons geloof in Jesus Christus stel ons in staat om te sien en die manier waarop ons sien te verander. Ons visie, ons droom, behoort te wees dat ons ander in staat stel om die koninkryk van God op aarde raak te sien en te beleef. Om God wat tussen ons leef, elke dag by ons is, en tog nie sigbaar met die blote oog nie. Ons help ander om die koninkryk te sien wanneer ons begin om die beginsels van die koninkryk te leef. Liefde vir mekaar, respek vir mekaar se anderswees, die vermoë om mekaar te aanvaar met ons foute en tekortkominge. Ons doen en ons praat behoort ook diegene wat nie kan sien nie, se oë oop te maak vir God se wonderwerke en teenwoordigheid in ons lewens.
Lees die seine - die waarde van kommunikasie
Voordat jy met my kan praat, moet jy eers my taal leer. - Voltaire
Voordat morse kode of sonars op skepe gebruik is om kommunikasie tussen skepe en die land te bewerkstellig, is vlae of ligte gebruik om tekens na mekaar te sein. Klein vlae is in elke hand gehou en op verskillende maniere beweeg om sodoende verskillende letters van die alfabet te kommunikeer. As ’n skip nie kontak het met die land nie, nie haar posisie kan kommunikeer met ander nie, kan dit net sowel sink. Kommunikasie op die diepsee is ’n kwessie van oorlewing. Praat ons nie met mekaar nie en praat ons nie die taal van die wêreld nie, verstaan ons mekaar nie en ook nie die taal van die wêreld nie, en is lewe nutteloos. Praat met mekaar en begrip vir mekaar is lewensnoodsaaklik. God het aarde toe gekom, die Woord het mens geword sodat ons kon sien, hoor en ervaar wat Liefde is. God was bereid om ons “taal” te praat. Dit is die hart van ons geloof – God het na ons toe gekom. God was en is bereid om met ons te kommunikeer deur in die woorde van Filippense 2:7 “Homself te verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” Dit is nie mense wat reg is en op die ou einde die wêreld verander nie. Dit is diegene wat die vermoë het om die regte dinge te kommunikeer wat die verskil maak. As ons die evangelie wil oordra op effektiewe wyse, sodat dit ’n impak maak in mense se lewens, moet ons leer om ook die taal van die omgewing waarin ons bly te praat en te verstaan. Ons lewe in ’n tegnologiese wêreld. As ons effektief in die wêreld wil lewe, sal ons ook moet leer om hierdie tegnologie te gebruik vir effektiewe kommunikasie. Hoe kommunikeer ons die Evangelie van Liefde? Deur te getuig van die hoop wat in ons leef. Deur met mekaar te praat oor God en met God te praat. Deur na mekaar se taal te luister en moeite te doen met mekaar se stories. Deur die beste metode van kommunikasie te gebruik: beelde, stories, dit wat die tegnologie tot ons beskikking stel. Deur te luister en moeite te doen om jou medemense se taal te leer. Bowenal behoort ons ’n sensitiewe oor te ontwikkel wat na God se stem luister.
Die openheid om te leer
I keep six honest serving men; They taught me all I knew Their names are What and Why and When And How and Where and Who - Ruyard Kipling
Elke skip het ’n logboek en biblioteek aanboord. In hierdie logboek word vorige ondervindings en waarnemings neergeskryf wat die kaptein en bemanning in staat stel om besluite te neem. As ons ons skip op die diepsee wil navigeer, moet ons ons omgewing leer ken en bereid wees om te leer. Die woord dissipel in Grieks beteken “student.” Christenwees beteken ook studentwees. Altyd bereid wees om te leer. ‘n Christen is altyd besig om voor te berei vir die volgende avontuur en leer voortdurend nuwe dinge oor die diepsee. Christenwees is dan altyd oppad-wees, oppad om (in Paulus se woorde) verby die melkkos te beweeg en vaste kos te eet. Geloofsgroei is altyd ’n leerproses. Hoe goed ken ons onsself? Hoe goed ken ons die mense rondom ons? As ons nie vertroud is met die diepsee wat ons binnevaar nie, as ons nie bereid is om die wêreld waarbinne ons leef en ons werksgebied is, te ken nie, kan ons ook nie die Evangelie effektief leef nie. Dissipels van Christus, leef nog steeds binne die wêreld en die wêreld is ons werksterrein. Daarom moet ons ons werksterrein ken. ’n Verhouding met Christus is ook ’n lewendige verhouding en as ons nie bereid is om binne hierdie verhouding te leer te ontwikkel nie, kan daar nie geloofsgroei gebeur nie. ‘n Dissipel bly altyd ’n lerende en studerende volger van ons Meester. ’n Dissipel bly ook altyd ’n student van verhoudings. Verhoudings en menswees is kompleks. As ons nie bereid is om ook binne verhoudings te leer nie, gaan ons ook nie onsself leer ken nie.
Welkom by
Philadelphia Gemeente
© 2012 Created by Philadelphia Gemeente.
